Saturday, May 14, 2016

Okey Dokey

I put my whole self in, I pull my whole self out, in-out, in-out and that's what it's all about ;)

Sunday, April 17, 2016

Onverwags, Onbepland en Onbeskryflik

Soms is die lewe 'n vervelige, eentonige herhaling van homself vir so lank dat dit noodsaaklik voorspelbaar raak. 'n Mens raak so vasgevang in die grys van die ordinêre dat dit onmoontlik raak om te konsidireer dat daar 'n alternatief is. Werk, slaap, nodige sosiale interaksies, televisie, boeke, blogs, webcomics en eet...
Niks verras meer nie, niks lok die ywer en genot meer uit nie en dan, net wanneer jy jouself oortuig het dat dit al is wat oor is, wanneer jy jou toelaat om die medikasie as 'n antwoord en nie net 'n kruk te aanvaar nie, dan gebeur dit; nie 'n brandende, alomvattende verandering nie maar stadiger, soos wat die fondasies van jou lewe eers skud en dan herranskik. Stadig eers, soveel so dat jy nie die verskil kan sien nie maar eendag word jy wakker en alles is anders, beter.
Onlangs het hierdie klein, konstante veranderinge vorm geneem in die gewaad van 'n heeltotale metamorfose. Ek het voorheen al baie male voorspel dat 'n seun eers 'n man word wanneer hy die regte vrou ontmoet, die vrou wat hom noodsaaklik in 'n man maak en alhoewel dit 'n pragtige filisofiese woordrangskikking was het ek dit nie in my eie lewe as nodig beskou nie, nie totdat dit gebeur het nie. Uit niks uit nie, skielik en sonder beplanning het die besluite wat ek neem verander, nie meer selfdienend nie maar eerder, organies met langtermyn konsiderasie. Skielik is dit nie meer wat ek wil doen nie, maar watter invloed dit op haar gaan he, watter invloed dit op die seuns gaan he, hoekom ek dit wil doen, my vroeëre hedonisme het gelei tot 'n vorm van selfloosheid wat nie net bevrydend in dit self was nie, maar natuurlik en maklik en meer belonend was. Skielik was dit nie meer wat ek wil hê nie maar wat ons wil hê... Nie wat ek nou soek nie maar wat ek oor 'n maand, 'n jaar en 'n dekade wil hê. Sy het in my lewe ingekom, nie soos 'n storm wat alles omvergooi nie maar soos 'n sagte lentebriesie wat die begin van die somer oor my lewe gespoel het, die einde van die winter aangekondig het sonder 'n reuse, verswoestende storm maar met prag en wonder, subtiel en magies en perfek...

Monday, March 14, 2016

Hoekom dan nie?

Die oneindige moontlikhede wat elke dag inhou behoort jou te laat steier. Die ontelbare hoeveelheid ondervindinge wat ek kan ervaar is ontelbaar, asemrowend en ek sit hier en kyk na my Outlook inboks en wag vir nuwe e-pos.
Ons lewe, vasgevang in lusse, lewe dieselfde paar dae oor-en-oor en verbeel onsself net 'n handjie vol moontlike padjies wat voor ons lê. Ons sien dieselfde dinge elke dag en reageer dieselfde manier, dink dieselfde gedagtes, elke dag 'n ligte variasie op die vorige dag, elke oomnlik vloei egalig op die sagte kurwe van maatskaplike norme.
Ons tree op asof om net deur vandag te kom, more te kom gaan beteken dat ons drome kan terugkeer na ons toe.
Nee, ek het nie al die antwoorde nie, ek weet nie hoe om myself te forseer om die potensiaal in elke oomblik te sien nie maar ek weet een ding: Die oplossing behels nie die afwatering van elk van my idees en kreatiewe impulse net sodat ek eendag makliker in 'n vorm kan pas nie. Dit behels nie die temper van my eie lewe om beter in iemand anders se verwagtinge in te pas nie. Dit behels nie terughou omdat ek bang is om dinge rond te skud nie.