Monday, September 14, 2015

Dorpsplaaskind my Meisiekind

Dorpsplaaskind my meisiekind met winter in jou hare, 
mag jou glimlag nooit verblyk deur al leefs' kronkelpaaie
want hoëveldnooi my maanprinses die tyd brand in jou oë, 
die wêreld rol-tol en draai om ons en los jou soms bemoë 
maar elke nag gaan le die son en nag’s stilte ontplooi 
en jy, die maan in nagsgewaad, ontpop dan o so mooi. 

Ja langhaarkind my meisiemens jou prag straal altyd deur 
die moei en stoei en voortbestaan van dag na dag se treur. 
Jy’s bosveldmooi in helder-herfs en daagliks laat jy my 
my lewenskeuses keer op keer konstant weer regomkry. 
In elke dag se rondgespartel deur die werk en talm 
bly jy die en’gste oorsaak vir my nuutheersende kalm. 

O blommekind my pragprinses aan jou behoort my hart, 
kon ek vra vir enig’iets as verlossing van leefs’smart 
was dit om my lewe voort te leef met jou teenaan my sy. 
Om daagliks keer op keer die geleentheid te kan kry 
om jou elke dag telkemale keer herhaald'lik te kan wys 
dat daar niemand in die heelal is wat beter is as jy.