Friday, March 16, 2012

Die onverkrygbare

Om dit waarna jy smag te versoen met dit waartoe jy in staat is, is die enkele hel wat ek my eie moet noem.Ek weet presies wat ek wil hê. Almal wat my werklik ken, weet net so goed soos ek wat dit is, wie sy is...
Maar sy wie ek wil hê, wil my nie noodwendig in dieselfde manier terughê nie. Daarmee dan die situasie wat ek myself so onvergenoegd in bevind.
Daar is geen vergelyking vir jou nie en ek soek jou met alles in my. Die hartseer realiteit dat ek jou nie kan hê nie, al lankal die grootste, haatskeppende, onveranderbare element in my lewe wat ek nie kan aanvaar nie.
Vir lank genoeg het ek gemaak of ek oukei is, voorgegee dat ek oor jou is, dat ek gelukkig is met ander, mindere afleidings, wanneer dit 'n leuen is. En die prys van hierdie leuen was die geluk en goedheid van my onbedoelde slagoffers.
Die bloed van die gebroke harte wat ek agter my laat gestrooi soos ledemate in die slagveld na die stryd wat my hande vlek. Die slapelose nagte wat tot gevolg kom en die selfverdriet wat sonder einde, sonder verligting op my neerlê dan die prys wat ek betaal... Onvergenoegd.
Die realisasie dat ek onmoontlik so kan voortgaan juis dan die dryfveer wat my lei tot hierdie dieper gegrip vir my situasie, die situasie wat, ten spyte van my skyn en voorgee, nog nooit verander het nie.
Ek vind myself snags nogsteeds in hel... Vervul met die diep brandende begeertes en verlange, die galbitter van die situasie waarin ek myself sonder toevlug vind... Wat staan my te make? Gee op en loop weg? Lagwekkend, ek wens ek kon, ek wens dit was so eenvoudig. Of bly ek, hou ek aan hoop en glo en probeer om net deel van die wonderlike realiteit van jou bestaan te bly?

Wednesday, March 7, 2012

Die storm in die hart van die son...

"Vra jy my nou oor liefde?"
Bouwer grinnik ligweg in afkeur oor die onderwerp, mompel daarna, amper onhoorbaar; "lagwekked..."
Hy staar in die verte oor die tonele wat by die motorvenster verbyflits die skielike stilte in die kajuit trek vir wat voel soos 'n ewigheid, sy vingers trek so styf vas om die stuurwiel dat die wit van sy kneukels duidelik sigbaar is deur die vel wat soos dromme styfspan daaroor, hy neem een diep asemhaling voordat hy antwoord:
"Liefde is... Pateties. Die onmoontlike, die onherroeplik onaangename, die hel vanself. Dit brand soos die storm in die hartjie van die son. Dit is soos vuur en ys en woede... Dit is onbeskryflik antiek en vir ewig... Dit brand in die middel van tyd self en neem die draai van die heelal waar... Dit is sonder skroom en is die enkel grootste ellende in hierdie heelal. En dit is... wonderlik... Dit lig die armsaligste siel tot onberykbare hoogtes en dit tem die wilde hart van die wrede wrokgevulde dier. Dit is die groot dryf in hierdie bestaan... Gelyktydig die grootste vyand en vriend van hoop... En heeltemal die moeite werd..."
Die vog wat in sy oë opswel word verskuil agter sy sonbril, en hy verval terug in die oneindigende stilte vir 'n oomblik...
"Totdat jy dit self ervaar het, sal jy dit nooit kan verstaan nie, en wanneer jy het, sal jy besef dat jy dit nooit sal kan beskryf nie. Dit is nie die tipiese ek is lief vir jou kak wat mense kwytraak nie. Dit is die gevoel van totale verlatenheid wat jou geheel oorneem wanneer jy dit voel en nie kan uitoeffen nie. Dit is iets wat jy eenkeer sal voel en nooit sal vergeet nie. Ek sou dit beskryf as die wonderlikste gevoel op hierdie aarde met die duurste prys, en selfs met die prys so hoog soos die vernieteging van die self, is dit elke oomblik van hel werd..."
Sy kyk na hom agter die stuurwiel en vra hom; "Jy klink of jy weet..."
Hy wyk sy aandag nie van die horison af nie en mompel weer, half onder sy eie stem; "Te fokken goed"