Friday, March 16, 2012

Die onverkrygbare

Om dit waarna jy smag te versoen met dit waartoe jy in staat is, is die enkele hel wat ek my eie moet noem.Ek weet presies wat ek wil hê. Almal wat my werklik ken, weet net so goed soos ek wat dit is, wie sy is...
Maar sy wie ek wil hê, wil my nie noodwendig in dieselfde manier terughê nie. Daarmee dan die situasie wat ek myself so onvergenoegd in bevind.
Daar is geen vergelyking vir jou nie en ek soek jou met alles in my. Die hartseer realiteit dat ek jou nie kan hê nie, al lankal die grootste, haatskeppende, onveranderbare element in my lewe wat ek nie kan aanvaar nie.
Vir lank genoeg het ek gemaak of ek oukei is, voorgegee dat ek oor jou is, dat ek gelukkig is met ander, mindere afleidings, wanneer dit 'n leuen is. En die prys van hierdie leuen was die geluk en goedheid van my onbedoelde slagoffers.
Die bloed van die gebroke harte wat ek agter my laat gestrooi soos ledemate in die slagveld na die stryd wat my hande vlek. Die slapelose nagte wat tot gevolg kom en die selfverdriet wat sonder einde, sonder verligting op my neerlê dan die prys wat ek betaal... Onvergenoegd.
Die realisasie dat ek onmoontlik so kan voortgaan juis dan die dryfveer wat my lei tot hierdie dieper gegrip vir my situasie, die situasie wat, ten spyte van my skyn en voorgee, nog nooit verander het nie.
Ek vind myself snags nogsteeds in hel... Vervul met die diep brandende begeertes en verlange, die galbitter van die situasie waarin ek myself sonder toevlug vind... Wat staan my te make? Gee op en loop weg? Lagwekkend, ek wens ek kon, ek wens dit was so eenvoudig. Of bly ek, hou ek aan hoop en glo en probeer om net deel van die wonderlike realiteit van jou bestaan te bly?

No comments: