Wednesday, September 19, 2012

Jy is Kuns


Ek verbeel my lewe sonder jou en alles daar stort ineen.
Ek verbeel my jy't verlang, net vir 'n ruk.
Ek verbeel my jy voel alleen want die liefde breek net jou hart.
So ek trek my aan met 'n leë glimlag wat niemand hier oortuig.
Ek droom maar net oor droom van jou en in my onderbewussyn
in die skemer van my drome bly jy 'n diep-donker skim.
Diè idee draai in die verte, ek is metodiek en jy kuns.


Onthou jy die aande met my, jy't styf in my arms gelê.
Ons samesyn van verlange jou hand in myne gevou.
Hoekom het ons nooit saam kon wees nie toe dinge dit makliker maak?
Ek glo nogsteeds ons het 'n oomblik gehad.
Ek droom maar net oor droom van jou en in my onderbewussyn
in die skemer van my drome bly jy 'n diep-donker skim.
Dit word nou ook vir my duidelik, ek is metodiek en jy kuns.


Verlangend na die verlange, jy's telkens my kunsmeesterstuk.
Die beeld voor my gesig helder, my metodiek en jou kuns.
Nik's het tog ooit verander of is ek net feitlik mislei.
My hinker na jou verlange wat my telkens so kon verlei.
Ek glo dat jy onwetend miskyk,
dat dit ek was wat ek in jou kon vind.
Dit is nou vir my duidelik, ek is metodiek en jy, jy is kuns.

Wednesday, June 20, 2012

Die spook

Die pyn wat gevolg het, vir die res van sy lewe sou volg, is glad nie soos die pyn wat hom daardie dag teen die boom laat beland het nie; daardie pyn was lawaaierig, warm, dit het gepols deur sy are. Hierdie is stil en stewig en al wat dit doen is om hom te herinner dat hy nie goed genoeg was nie. Agt-en-twintig jaar oud en elke meisie wat hy ooit geken het, het gevou onder sy sjarme en prag en woorde en dit beteken, niks. Die een keer wat dit regtig saakgemaak het was hy net eenvoudig nie goed genoeg nie.

Tuesday, April 10, 2012

Soms is hoop nodiger as ooit tevore

Daar kom 'n tyd wanneer elke lewe van die baan afwyk. In hierdie desperate oomblik moet jy jou rigting kies. Gaan jy baklei om op die padjie te bly en ander toelaat om vir jou te vertel wie jy is? Of gaan jy dit vir jouself bepaal? Sal jy jouself roem toedoen deur jou keuse? Of sal jy jou nuwe baan kies? Elke oggend moet jy kies om aan te gaan of om net op te gee. Soms is dit maklik om te voel dat jy die enigste persoon in die wereld is wat sukkel, wat frustreerd is of ontevrede is met net oorleef. Maar daardie gevoel is 'n leuen en as jy net vasbyt, die moed kry om dit alles vir nog 'n dag te trotseer sal iemand of iets dit regkry om dit alles oukei te maak. Ons almal kort soms so bietjie hulp, iemand om ons te help om die musiek in die wereld te hoor, om ons te herinner dat dit nie altyd so sal wees nie. Daardie iemand is daar buite, en daardie iemand sal jou vind. Dit is dalk nie vandag nie. Dit gebeur miskien eers oor tien jaar, of dalk, as jy regtig gelukkig is, het jy daardie persoon reeds gevind.

Friday, March 16, 2012

Die onverkrygbare

Om dit waarna jy smag te versoen met dit waartoe jy in staat is, is die enkele hel wat ek my eie moet noem.Ek weet presies wat ek wil hê. Almal wat my werklik ken, weet net so goed soos ek wat dit is, wie sy is...
Maar sy wie ek wil hê, wil my nie noodwendig in dieselfde manier terughê nie. Daarmee dan die situasie wat ek myself so onvergenoegd in bevind.
Daar is geen vergelyking vir jou nie en ek soek jou met alles in my. Die hartseer realiteit dat ek jou nie kan hê nie, al lankal die grootste, haatskeppende, onveranderbare element in my lewe wat ek nie kan aanvaar nie.
Vir lank genoeg het ek gemaak of ek oukei is, voorgegee dat ek oor jou is, dat ek gelukkig is met ander, mindere afleidings, wanneer dit 'n leuen is. En die prys van hierdie leuen was die geluk en goedheid van my onbedoelde slagoffers.
Die bloed van die gebroke harte wat ek agter my laat gestrooi soos ledemate in die slagveld na die stryd wat my hande vlek. Die slapelose nagte wat tot gevolg kom en die selfverdriet wat sonder einde, sonder verligting op my neerlê dan die prys wat ek betaal... Onvergenoegd.
Die realisasie dat ek onmoontlik so kan voortgaan juis dan die dryfveer wat my lei tot hierdie dieper gegrip vir my situasie, die situasie wat, ten spyte van my skyn en voorgee, nog nooit verander het nie.
Ek vind myself snags nogsteeds in hel... Vervul met die diep brandende begeertes en verlange, die galbitter van die situasie waarin ek myself sonder toevlug vind... Wat staan my te make? Gee op en loop weg? Lagwekkend, ek wens ek kon, ek wens dit was so eenvoudig. Of bly ek, hou ek aan hoop en glo en probeer om net deel van die wonderlike realiteit van jou bestaan te bly?

Wednesday, March 7, 2012

Die storm in die hart van die son...

"Vra jy my nou oor liefde?"
Bouwer grinnik ligweg in afkeur oor die onderwerp, mompel daarna, amper onhoorbaar; "lagwekked..."
Hy staar in die verte oor die tonele wat by die motorvenster verbyflits die skielike stilte in die kajuit trek vir wat voel soos 'n ewigheid, sy vingers trek so styf vas om die stuurwiel dat die wit van sy kneukels duidelik sigbaar is deur die vel wat soos dromme styfspan daaroor, hy neem een diep asemhaling voordat hy antwoord:
"Liefde is... Pateties. Die onmoontlike, die onherroeplik onaangename, die hel vanself. Dit brand soos die storm in die hartjie van die son. Dit is soos vuur en ys en woede... Dit is onbeskryflik antiek en vir ewig... Dit brand in die middel van tyd self en neem die draai van die heelal waar... Dit is sonder skroom en is die enkel grootste ellende in hierdie heelal. En dit is... wonderlik... Dit lig die armsaligste siel tot onberykbare hoogtes en dit tem die wilde hart van die wrede wrokgevulde dier. Dit is die groot dryf in hierdie bestaan... Gelyktydig die grootste vyand en vriend van hoop... En heeltemal die moeite werd..."
Die vog wat in sy oë opswel word verskuil agter sy sonbril, en hy verval terug in die oneindigende stilte vir 'n oomblik...
"Totdat jy dit self ervaar het, sal jy dit nooit kan verstaan nie, en wanneer jy het, sal jy besef dat jy dit nooit sal kan beskryf nie. Dit is nie die tipiese ek is lief vir jou kak wat mense kwytraak nie. Dit is die gevoel van totale verlatenheid wat jou geheel oorneem wanneer jy dit voel en nie kan uitoeffen nie. Dit is iets wat jy eenkeer sal voel en nooit sal vergeet nie. Ek sou dit beskryf as die wonderlikste gevoel op hierdie aarde met die duurste prys, en selfs met die prys so hoog soos die vernieteging van die self, is dit elke oomblik van hel werd..."
Sy kyk na hom agter die stuurwiel en vra hom; "Jy klink of jy weet..."
Hy wyk sy aandag nie van die horison af nie en mompel weer, half onder sy eie stem; "Te fokken goed"

Saturday, February 4, 2012

Onverwagse Bedenkinge

Wanneer mens 'n sekere ouderdom bereik, min of meer in die area van vyf-en-twintig. blyk dit dat al jou vorige liefdesvertwistinge hulleself tot die huwelik oorgee.
Daar bestaan 'n amper weeklikse stroom bekendstellings in die sosiale rubrieke van plaaslike koerante waar jy die bruid se naam herken en vlugtelik herinner word aan 'n aand. 'n naweek of 'n oomblik gedeel. Hierdie huimwee raak dan deel van jou bestaan op hierdie gegewe tydstip in jou lewe. 'n Ou gewoonte, en dan... Dan sien jy Haar naam eendag, netjies gedruk op die bladsy, langs die naam van ene Pieter so-en-so.
Dit is die tipe gebeurtelikheid wat mens soms kan dryf tot heroorweging van jou lewensbesluite, jou wellustige bestaan te betwyfel, of selfs dalk, om die steekpyn te ervaar wanneer jy weet dat dit wat jy eintlik nog altyd geglo het sal uitwerk, nou nooit kan nie...

Monday, January 2, 2012

Nuwe Hoop ('n Alternatiewe slothoofstuk?)

Dit het my so lank geneem om die waarheid te sien. Die waarheid wat ek so doeltreffend vir myself verskuil het, versteek het agter hindernisse wat ek vir myself geskep het.
Ek het uiteindelik die raad gevind wat ek nodig gehad het om die klappe van my oe te verwyder. Om dit waartoe ek myself blind gehou het raak te sien.
Ek treur vir die verlies. Die verlies van 'n eens groot deel van myself wat ek nou tot niet moet maak. Maar, terselfdetyd, verwelkom ek die vryheid wat die onverwyderbare deel van die verlies dog dan ook is.
Dit is ook dan waar, dat tesame met hierdie nuutgevonne vryheid, daar 'n groot verantwoording is wat ek moet doen, soos met enige vryheid, die reperkussie van my besluit moet weeg aan die koste.
Die koste van die naajaag van dit wat ek soek, selfs nodig het, is dan die meerderheid van al my prestasies. Prestasies wat leeg en dor is wanneer dit gemeet word aan dit wat ek kan bereik, kan vermagtig.
'n Deel van my sien hierdie prys as te hoog, maar daardie deel is besig om die stryd te verloor teen die res van my self, wat die risiko as die moeite werd begin sien. Namate meer en meer van die psige van die self die nuwe moontlike avontuur identifiseer as 'n risiko wat die moeite werd is, voel ek 'n element van verligting in my. Die gebeure van die afgelope jaar nie meer wat dit eens was nie, inteendeel, die verwikkelinge eerder sien as leeg en dor, die prestasies as sinneloos en betekenisloos, die enigste waarde daarvan dat dit my voor hierdie geleentheid gebring het. My voor hierdie besluit kom plaas het. Wat dan gemaak? Watter padjie gekies? Watter risiko om te neem? En watter prys om te betaal?
Ek reflekteer op die gesprek met Michelle, op die inherente opregtheid van haar advies, haar raad en mees belangrik, haar analise en weet wat ek moet doen, maar nie of ek gereed is om die kans te vat nie. Gelyktydig doodseker van die feit dat om dit nie te doen nie, grens aan selfmoord.