Tuesday, February 15, 2011

Die Verval Van Hendrina.

Hendrina, 'n vaal, verlate, stofbruin wrak van 'n myndorpie. Met paaie wat soos switzerse kaas vol gate en krake le. 'n Dorpie waar selfs die enigste verkeerslig jare terug al opgepak het en elders gegaan het, dalk in protes teen die verval van die plek, die agteruitgang van sy tuisdorp, wie sou weet? Die vervalle bouvallige muurdele in die skelette van huise en besighede beklemtoon net die leemte, die heersende leegheid, 'n refleksie van dit wat ek in myself voel.
Daar stap 'n ou vrou oor die straat voor my, reeds blind en doof en lankal nie meer bestem om hier te wees nie, waarneembaar in die diep slote in haar gesig, die spierwit in haar hare, haar sonverblykte somersrokkie wat kleef aan haar vooroorgebuigde vorm wys die dra en was van jare.
In 'n oomblik sien ek deur 'n verskeuring in realiteite 'n ander werklikheid, 'n parallele heelal waar hierdie  vrou ook jonk was, die rok ook nuut, maar net vir 'n oomblik... Dan is dit verby, die geestelike herinnering van die heenkoms van hierdie toneel voor my, die besef dat eens was hierdie nie al nie, daar was tog lewe, sprake van vooruitgang, 'n hoop en 'n glimps van positiwiteit voordat die werklikhede van die wereld dit weggeneem het.
Hoe presies weet ek nie wat die beeld hier voor my en die gees van 'n verlede weklik is nie... Die oorblyfsels van die liefde, van die gevoelens in myself, in my eie hart. Die liefde wat daar was, die volle onbeskryflike genot wat ek ervaar het in jou, deur jou Die oombliklike verligting vanuit die wereld wat ek altyd so ooranaliseer en beredeneer, die tydelike verlossing van die kettings van die lewe. Net voordat dit alles weggevat is, verval het, my verlaat het, my gelaat het met net die tydige tydelike herinneringe van dit wat was, wat kon gewees het, en nou waarskynlik nooit sal plaasvind nie. Net 'n tydelike flitsherrinering van iets perfeks... Die verdoeming van Hendrina, fok, die verdoeming van myself...