Friday, May 27, 2011

Soggens

--Oorspronklik bedoel as 'n slothoofstuk, het ek besef dat die karakterontwikkeling wat nodig is om die protagonis af te rond nie kan eindig met die verlange wat ek as mens nie meer voel nie--


Vanaand weer, soos elke ander aand sedert ek en Lizbeth terug is van Tanzanië af, spook jy weer in my drome. Nie meer soos vroeër, dieselfde een droom se repetisie nie, maar in verskeie skakerings en variasies op temas, allerlei willekeurige fantasië waarin jy  voortdurend die enigste konstante bly... 
Na afloop van elke droom skrik ek weer wakker en voel die hol leëmte binne in myself opdruk en uitborrel. 
Al besef ek dat dit net 'n droom was, wil ek alles in my verruil om dit werklikheid te maak...
Sonder afwyking herroep dit binne in my die diep, bittere verlange na jou. Tydens hierdie oomblike, soos ek luister na die hane se gekraai en die ganse se lawaai en uikyk oor die landskap, met die gloeiende rooi koolkie op my sigaret as my enigste metgesel in die droewe donkerte van die swart-vroeë-oggendure, word ek flitsig gevul met die verlange na die aande, nie so lank terug nie, toe ek nog kon drink om die drome van jou te vermy. 
Elke oggend, na die vyfde of selfs sesde iterasie van die proses, in daardie oomblikke wat die son in die skakering wat jy eens aan my as "Pampoenpienk" beskryf het, haar gesig oor die rand van die rollende heuwels wat my uitsig is begin uitlig, besef ek dat hierdie wel tog 'n vorm van vordering is. 
Dat elke dag, nog 'n dag is, nog 'n geleentheid is om die stryd voort te voer. 
Dat ek nooit sal of kan of wil ophou hoop nie en dat ek nie sal opgee nie. 
Nie vir so lank as wat ek nog lewe nie... 
Ek skiet die stompie van my hoeveelste sigaret by die balkon af en vat 'n diep teug van die bitter-koue vroeg-oggend lug in my longe in, stap my woonstel binne en maak reg vir hierdie "nog 'n dag" met net een gedagte in my hart; Ek bly onherroeplik lief vir jou; nou en vir altyd...

No comments: