Wednesday, May 4, 2011

Opstaantyd

Die wekker gaan af, weer, soos elke ander oggend, te vroeg... te laat... nie dat dit saakmaak nie, ek het in elk geval nie geslaap nie, net soos elke ander oggend. Ek gryp blindelings na die foon op my bedkassie en stamp die leë whiskey bottel om. Sal vandag nog 'n bottel moet gaan koop. Hoe ek verlang na die aande wat die whiskey nog gewerk het. Wel, kan maar net sowel opstaan en regmaak vir nog 'n dag in die voortdurende voorigewing van my lewe.
Ek lê teen die muur van die stort en die stoom rys van my lyf af soos die water in dun stroompies teen my vel afloop. My kop rustend op my arms, vervul met 'n diep hoop dat die water die vuil van die wêreld van my kan afwas, die vuil van myself, die gemors wat ek is. Ek onthou dat iemand my eenmaal vertel het hoe sy beter voel wanneer sy haarself onder die stort uithuil, huil en snik en kerm tot al die warm water op is, sodat al die trane, die seer en hartseer emosies in die drein afspoel... Dit het so melodramaties geklink, maar hoe smag ek nou daarna, die vermoë om uiting te gee aan al die pyn en haat en hartseer binne my op so 'n eenvoudige en natuurlike manier. Hoe die moer het ek hier gekom? Hoe het die onmeetbare, onduidelike paadjies van die lewe my by hierdie plek gebring? Hoe het dit vir my onmoontlik geword om selfs net te kan huil?
Soos wat ek die krane van die stort toedraai en die handoek van die deur af lig om myself af te droog kom ek voor die spieël tot stilstand...
Wat ek daar sien laat my 'n oomblik huiwer. Die swart sirkels onder die oë, die styf, spanning van die vel oor ribbes, die akute, patetiese hangende skouers, die algehele gebrek aan dit wat mens, mensmaak. Kan dit daadwerklik wees hoe ek lyk? Die beeld in die spieël is dié van 'n moë man, 'n man wat nie nog 'n dag kan aangaan nie, 'n man wat op die rand van die afgrond staan.
Dit is tog wat ek is, wie ek is, die man op die rand van die afgrond. Getreiter deur die soet aanloklikheid van spring, val, vrywees wat in engele stemme na my roep... Wat die franse noem "L’appel du vide".
Dan val my oë op die tatoërmerk op my ribbes... Die hebreuse skrif met die woorde wat eens so baie betekenis gehad het; Psalm 23, "Die Here is my herder...", die betekenis verlore in die jare sedert ek dit laat doen het, die waarde nou vir my nutteloos. Die langdurende twis met God nog lank nie verby nie, en ek, onbereidwillig om verder te baklei, die las wat ek dra, net nog 'n deel van die onaangenaamheid, net nog 'n bewys van hoe sleg ek werklik is. Net nog 'n herinnering van die totale mislukking wat ek van alles gemaak het.
Na 'n bewustelike besluit om nie verder te dwaal nie sien ek die drie-dag baard op my gesig en besluit ek maar om dalk eerder te skeer voordat ek kantoor toe gaan. Soos wat die elektriese skeermes gly oor my gesig in die dans van soveel manne in soveel badkamers op aarde elke oggend in die onaardse maniere wat ons, ons gesigte trek sodat die honger lemme van die skeermes kan gryp en sny en die hare van ons manswees verslind vind ek 'n tipe vrede in die herinnering van die roetine, iets om aan vas te klou, 'n bewys dat ek darrem nog lewe, as mens dit lewe kan noem.
In daardie vae tussen-in gevoel, half wakker, half dwaelend, besef ek dat dit nou reeds drie dae is sedert ek laas geslaap het. Hierdie gemors met die verdwyning begin aan my eet. Hoekom kry ek nie direkte antwoorde by die mense nie? Hoekom dans die beurokrate so om my vrae? Hoekom wil my kontakte by SANAI nie terugkom na my toe nie? En dan, die regte vraag; hoekom het Lenette my gebel? Van al die mense op hierdie fokken planeet, hoekom moes sy hierdie lank terug begraafde kak weer binne my kom oopkrap. En oor Hom, jissis... Oor Hom. Hoekom moes die mal moer gaan soek na sy fortuin by hierdie mense. Hoekom het ek nie genoeg opgelet om hom te waarsku nie, omgegee nie? En wat nou? Laat ek dit gaan dan is sy bloed op my hande... nog bloed... nie weer nie... Ek het uit daardie speletjie uitgekom en nou, oor 'n fucked up eks se fucked up kak keer al die herrineringe terug. Jare se harde werk, begrawe, drank, dwelms, haat vir myself en meer as dit, haat vir die regering wat dit alles veroorsaak het.
Ek spoel die wasbak uit, ek lyk darrem aansienlik beter. Die fok weet, maar ek sal seker maar moet probeer. Nog een kans, een oproep om te maak. So aanloklik soos wat dit klink om die ding net te los, net sy stille dood te laat sterf en vir haar te sê ek kon hom nie kry nie, is daar geen kans wat ek vir haar sal lieg nie. Die kinders kort hul pa. Dit fokken juis hoekom sy met hom getrou het, nie met my getrou het nie.
"Fok..."
Nog voordat ek besef die besluit is gemaak moer ek my vuis stukkend teen die badkamermuur.
"FOK!!!"

No comments: