Saturday, May 7, 2011

Die Vlug

Die monotoniese gedreun van die vier Allison T56-A-15 turboprop enjins op die vlerke van die Lockheed C130 Hercules vragvliegtuig verskaf geen afleiding van die koue binne die bykans leë buik van die militêre vliegtuig nie.
Die weervoorspelling was toe reg, ek voel hoe die rukwinde die vliegtuig laat stuier en spring, hop en val. Sien die reëndruppels saamswel en teruggly teen die glas van die klein ronde poortvensters. Dit herroep 'n herinnering van diep in my geheue, van 'n aand 'n leeftyd gelede. 'n Leeftyd gelede maar net 5 maande in die telling van diè wat nie van beter weet nie;
Die staptog winkel toe in die aand, die lukrake, onbeplande willekeurige stop by die Dros vir 'n whiskey. Die Dros waar ons die tyd omgepraat het en misgedrink het. Vlak vae gesprekke oor 'n moontlike toekoms vir ons twee saam. Die tipiese gesprekke van soveel verliefde paartjies op soveel plekke wat so dikwels plaasvind op hierdie planeet. Maar, tog, anders. Ek was besig om te vinnig te diep te val vir hierdie vrou, maar dit was net sulke aangename, vredelike gevoel dat ek nie bereid was om die moontlike gevaar vir myself raak te sien nie. Toe ons uiteindelik die rekening vereffen en uitstap het ons ontdek dat dit begin reën het in die tyd wat ons daarbinne gesit het. So 'n ligte stadsreën en die parkeerterrein was leeg. Die garage wat net aan die anderkant van die oop, geteerde parkeerarea van die winkelsentrum wag, die ligte aan. Bereikbaar. Ons besluit om deur die reën te hardloop en haal die hek, klouter soos mal kinders onderdeur en rits oor die straat na die garage toe.
Die nuutste uitgawe van PC Format het nog my aandag gevang, en gelei tot 'n vlugtige bespreking van die veld. Die vet bonusse in ons sakke brand, en ons koop allerlei lekkergoed, insluitende 'n pienk en blou flitslig lekkertjie wat 'n sterretjie of 'n hartjie met 'n glimlag daarop teen die gekose oppervlak sou projekteer met die druk van 'n knoppie. 'n Bloue vir my en 'n pienke vir haar. Sinnelose kinderspeelgoed wat ons toe in elk geval later geruil het sodat sy tog nie 'n pienk item moes besit nie. In die natuur van die romantikus wat ek besig was om te herontdek binne myself, loop-hardloop-trippel ons deur die reën deur terug na my ouers se huis toe. Die huis waar ek grootgeword het. Ons het seker soos twee versleë straatkatte gelyk toe ons watersopnat en heeltemal deurweek die voordeurklokkie lui en, soos te siene in my ma se uitdrukking toe sy die deur oopmaak, het ons heel kens voorgekom. Sy het nog eers die kamera gaan haal om 'n foto te neem alvorens sy die hek wou oopsluit.
Die mees aangename herinnering wat ek nog ooit gekoppel het aan reën.
Ek kyk oor die vragruim na waar Lizbeth lê in haar slaapsak, ek sien dat sy ook nie aan die slaap kan raak nie. En steek maar 'n sigaret aan. Die spanning en angs is duidelik sigbaar in die manier wat sy sit-lê en haar eie sigaret rook. Die spanning en afwagting van iemand wat nog nooit tevore deelgeneem het aan so 'n operasie nie. Vir die honderste maal vra ek myself of ek seker is dat sy wel die regte keuse was vir hierdie sending. Sy wat nog nooit enige militêre opleiding gehad het nie. Die twyfel eet steeds soos 'n ongerekende honger aan my, maar ek kon niemand beters kies nie. Sy is 'n doodskoot met 'n geweer, en die enkel mees betroubare persoon in my lewe. Daar is egter die ander saak ook, sedert sy teruggekom het van Lenette af twee dae gelede is iets anders in haar. Ek kan dit nog nie peil nie, maar sou blind gewees het om dit nie raak te sien nie. Seker maar net die realiteit van dit wat ons vanaand gaan doen. Hoeveel keer het ek al mense gesien op hulde eerste sending, skrikkerig, onsekerheid sigbaar in hul jong gesigte. Ek het self ook so gelyk eens op 'n tyd, baie lank gelede.
Soos wat ek uiteindelik die stompie doodmaak kyk ek na die horlosie wat ek dra, voel snaaks om weer 'n horlosie aan te hê. Die MTM Black Patriot horlosie voel soos 'n onwelkome bedreiging en 'n dooie gewig op my arm. Ek weet dit is net my verbeelding, die horlosie is spesiaal ontwerp vir diè tipe werk, weeg niks en is bykans onbreekbaar. Ek kyk weer, vir die soveelste keer hierdie aand na die tyd, dit is net na tien-uur in Suid Afrika, dus, net na elf-uur in Tanzanië. Amper tyd, ons is al ses-ure in die lug sedert ons uit Middelburg uit opgestyg het. Dit beteken ons behoort oor so 'n uur oor die drop site te wees, net buite Ilula. Ek herinner myself aan die simpel rituele wat die Recces altyd op sulke sendings gehad het. "Lucky Underpants", haaspote, die vryf van 'n hangertjie in die hande, die lees van 'n bybel. Maar net deel van die leefstyl. Ek het nooit staatgemaak op enige sulke lawwe dinge nie. My enigste ritueel was altyd die visualisering van die sukses, die wete dat elke gewonne sending sou lei tot nog 'n bevordering, nog 'n medalje, hoër in die range.
Hier sit ek, op die rand van die volgende groot avontuur en my gedagtes haak vas by Haar. Simpel, onnodig en heeltemal belaglik, maar ek stuur steeds 'n skietgebed op; Beskerm Haar, niks meer nie.
"Hey Grimm, jy gereed om te spring?"
Soos wat sy terugkeer uit haar persoonlike wêreld en haar oë fokus op my tref die werklikheid van hoe opreg pragtig sy is my, heel onverwags. As dinge maar net anders was, sou ek en sy nogal goed kon saam aard. Ons persoonlikhede mesh goed, ons belangstellinge ook. Hoe belaglik is dit nie dat ek romantiese gevoelens begin ontwikkel vir my beste vriend... Wat gay is... Tipies van myself.
"Ja, dude. Are we there yet?", in die trekkerige, speels irriterende stem wat kinders altyd gebruik op lang motorreiste.
"Minder as 'n uur, die loods sal ons nou enige oomblik kom laat weet sodat ons kan kit, is jy seker jou vuurwapens is gereed? Finale equipment check moet maar nou wees, daar gaan nie weer tyd wees nie."
Sy begin om haar toerusting na te gaan, maak weer seker dat alles daar is, die ammunisie, die noodhulptoerusting, die radios ens. Toets die sluitaksie op die CZ.88 pistool wat ek vir haar gegee het, sloot die magasyn terug en sit dit in die holster op haar taktiese badjie. Sy begin die M40A1 geweer na te gaan, loer af deur die teleskoop. So natuurlik, asof sy al vir jare lank met vuurwapens werk. Baie moeilik om te glo dat ek in net drie weke haar opgelei het om met die militêre graad geweer te werk. Haar vorige ervaring beperk tot .22 kaliber sportgewere op skool.
In die relatiewe stilte, nie dat die gedreun van die enjins ooit as stilte kan beskou word nie, begin ek maar self my eie wapens nagaan, die geoeffende aksie bied 'n afleiding, 'n skeiding van die werklikheid van wat ons nou gaan doen. Hmmm, toe het ek 'n ritueel...

No comments: