Thursday, May 19, 2011

Bloed

Die hartseer realiteit van die lewe waarin ek myself onherroeplik vasgekeer vind, is dit; ek is moeg. Moeg vir almal se kinderlike probleme, die irritasies in hull sinnelose lewens wat hulle op my probeer afwerp. Is dit iets in die ervaring in my oë wat mense gerusstel om met my te deel wat hulle voel en dink en wat aangaan in hul lewens?
Lyk ek betroubaar?
Dink hulle ek kan help?
Fok, as hulle net geweet het.
Hulle oppervlakkige "probleme" weeg nie naastenby op teen dit wat in my lewe aangaan nie. Die werklikheid van die mislukking wat ek is, soveel groter, so onmeetbaar massief dat enige iets wat hulle het, nie eers voel soos 'n sandkorrel teen die berg daarvan nie.Die diepte van dit alles, die werklikheid van wat ek gedoen het, wat ek voel en ervaar borrel soms oor en op die kookpunt doen ek die een ding wat ek weet dat ek kan doen sonder om uitgesonder te word of onderwerp word aan sielkundige behandeling. Ek hou dit in, begrawe dit en wys niks. En dan sien mense dat ek terugtrokke en moeg lyk. Hulle dink dat hulle weet wat aangaan maar het eintlik geen idee nie. Die vae idee dat dit 'n liefdesteleurstelling is wat so swaar op my gemoed rus is juis die illusie wat ek kweek, aanhuts en brandstof gee, want solank as wat mense dink dat dit al is, gaan hulle nie krap nie.
My sien as 'n swakkeling dalk, maar hulle sal nie weet nie. Hulle kan nie weet nie.
Die verlies van "Die Een" weeg swaar teen die baklei van my voortbestaan, maar dit is nie die enigste nie. Die tyd saam met haar was meer as net 'n liefdesverhouding sonder vergelyking. Dit was die eerste keer in 'n baie lang tyd wat ek nie elke oomblik van elke dag, elke liewe fokken dag, moes ervaar hoe die gesigte, en mense uit my vorige lewe by my spook nie. Die herinneringe van soveel lewens wat ek geneem het, die dode wat ek veroorsaak het. En die bloed...
Al die fokken bloed...

No comments: